Forrel quiche

Ek is baie lief daarvoor om een goeie basisresep op verskillende maniere te gebruik. Hierdie quiche is een daarvan. Deur eenvoudig die proteïen te verander, kry jy elke keer 'n nuwe gereg. Gerookte forel is my persoonlike gunsteling, omdat die sagte rookgeur ongelooflik mooi met roomkaas, suurlemoen en vars dille saamwerk. Bedien dit saam met 'n vars vinkel- en sitrusslaai en sluit die ete af met klein Sjokolade Ganache-tertjies vir 'n spyskaart wat gaste nog lank sal onthou.

Prep Tyd - 20 mins

Kook / Bak Tyd - 45 mins

Totale Tyd - 65 mins

Moeite - Maklik

Bergingopsie: Yskas stoor

Oondtemperatuur: 180°C

Porsies - 8 porsies portions

Wenke / Tips

Annelien se Wenke
Hierdie quiche is een van daardie resepte wat wys hoe belangrik geurlae in kookkuns is. Elke bestanddeel dra iets unieks by om 'n ryk, gebalanseerde eindresultaat te skep.
Waarom gerookte forel?
Koue-gerookte forel het 'n sagte tekstuur en subtiele rookgeur wat uitstekend saamwerk met die romerigheid van roomkaas. Die vis hoef nie vooraf verder gaar gemaak te word nie en word net liggies deur die vulsel gevou sodat die vleis sy delikate tekstuur behou.
Die rol van roomkaas
Roomkaas gee nie net 'n voller smaak nie, maar stabiliseer ook die eiermengsel. Dit skep 'n digter, romeriger vulsel wat maklik sny sonder om droog te wees.
Waarom sampioene goed uitdroog?
Sampioene bestaan hoofsaaklik uit water. Indien hulle nie lank genoeg gebraai word nie, stel hulle tydens bak nog vog vry, wat die quiche pap kan maak. Braai totdat al die vloeistof verdamp het en die sampioene liggies begin karamelliseer.
Die belang van suurlemoen
Die suurlemoensap sny deur die rykheid van die roomkaas en spek en lig die delikate geur van die forel uit. Die vars dille versterk hierdie vars sitrusnote.
Gebruik enige gaar proteïen
Hierdie resep is besonder veelsydig. Die roomkaasbasis werk uitstekend saam met:
• Gerookte hoender
• Kassler
• Ham
• Gaar hoender
• Gerookte salm
• Oorskiet gebraaide vleis
• Geroosterde groente vir 'n vegetariese weergawe

Variasies
Gerookte Hoender
Vervang die forel met gerookte hoender en voeg vars pietersielie by.
Kassler
Gebruik Kassler-ribvleis vir 'n voller rokerige geur.
Salm
Gebruik warm- of koudgerookte salm saam met ekstra suurlemoenskil.
Spinasie en Feta
Laat die vleis weg en gebruik spinasie en fetakaas.
Aspersies
Voeg liggies gestoomde groen aspersies by.
Prei en Sampioen
Vervang die ui met dun gesnyde preie vir 'n fyner geur.

Bedieningsvoorstelle
Hierdie quiche is heerlik:
• Saam met Sitrus- en Vinkelslaai.
• Met vars suurdeegbrood.
• By brunch.
• As piekniekgereg.
• Met 'n eenvoudige tamatieslaai.
• By 'n glas verkoelde witwyn.
• As deel van 'n buffet.

Bestandele / Ingredients

Brosdeegkors
1 porsie Brosdeeg (Boerekos met 'n Twist)

Vulsel
450 g gaar gerookte forel (cold smoked trout) of ander gaar proteïen van keuse
45 ml olyfolie
200 g spekvleis, fyn gesnipper
250 g knopiesampioene, fyn gekap
1 groot ui, fyn gekap
5 ml vars knoffel, fyn gekap
350 g roomkaas, by kamertemperatuur
125 ml vars room
250 ml medium-dik witsous
3 ekstra groot eiers
60 ml vars dille, fyn gekap
15 ml vars suurlemoensap

Sitrus- en Vinkelslaai
Hoeveelheid: 6 porsies
Bestanddele
100 g geroosterde, gesoute neute, grof gekap
2 vinkelbolle, baie dun gesny
5 lemoene, in skywe of filette gesny
Growwe Himalajasout
Vars gemaalde swartpeper

Slaaisous
100 ml ekstra suiwer olyfolie
50 ml balsamiese asyn
30 ml Dijon-mosterd
15 ml heuning
2,5 ml gedroogde tiemie

Instruksies / Instructions

Voorverhit die oond tot 180 °C.
Voer 'n 23–25 cm tertpan met brosdeeg uit.
Prik die bodem liggies met 'n vurk.
Plaas in die yskas terwyl die vulsel voorberei word.
Breek die gerookte forel liggies in happiegrootte stukke.
Verhit die olyfolie.
Braai die spekvleis totdat dit goudbruin en bros is.
Skep uit.
Braai die ui met 'n klein knippie sout totdat dit glansend en sag is.
Voeg die sampioene by.
Roerbraai totdat al die oortollige vog verdamp het.
Voeg die knoffel by en braai nog ongeveer 1 minuut.
Laat die mengsel effens afkoel.
Meng die roomkaas, room, witsous en eiers saam totdat dit glad is.
Roer die dille en suurlemoensap by.
Vou die afgekoelde spek-, ui- en sampioenmengsel by.
Vou laastens die gerookte forel liggies deur.
Skep die vulsel in die voorbereide tertkors.
Bak vir ongeveer 45 minute, of totdat die vulsel gestol en lig goudbruin is.
Laat ongeveer 10 minute rus voordat dit gesny word.

Sitrus en Vinkel slaai
Rangskik die vinkel, lemoene en neute op 'n opdienbord.
Sprinkel liggies met sout en peper.
Meng al die bestanddele vir die slaaisous met 'n stokmenger totdat dit goed geëmulgeer is.
Drup net voor opdiening oor die slaai.

Berging
Bewaar die quiche in die yskas vir tot 4 dae.
Verhit in 'n 170 °C oond totdat dit deurwarm is.
Die gebakte quiche kan vir tot 2 maande gevries word.