Hawain Pastaslaai in ‘n bottel
Hierdie gebottelde Pastaslaai kombineer al dente pasta met kleurvolle groente, pynappel en 'n geurige soetsuur-sous wat met mayonnaise afgerond word. Die resep is ideaal vir vooraf voorbereiding en spensberging, mits die korrekte warmwaterbad-proses gevolg word om 'n veilige vakuumseël te vorm. Die resultaat is 'n heerlike, romerige slaai wat perfek is vir kamp, kuier en besige dae.
Prep Tyd - 20 mins
Kook / Bak Tyd - 45 mins
Totale Tyd - 65 mins
Moeite - Maklik
Bergingopsie: Yskas stoor
Oondtemperatuur: n.v.t.
Porsies - Lewer: 6 x 750 ml bottels portions
Wenke / Tips
Annelien se Wenke
- Voedselveiligheid kom eerste. Omdat hierdie resep mayonnaise bevat, is die warmwaterbad-proses nie 'n opsionele stap nie, maar 'n belangrike deel van die resep om die risiko van voedselvergiftiging te verminder.
- Kook die pasta net tot al dente. Dit sal tydens die warmwaterbad nog effens verder gaar word en die perfekte tekstuur behou.
- Meng die warm pasta dadelik met die warm sous en mayonnaise. Dit help met egalige hitteverspreiding voordat die bottels verseël word.
- Gebruik slegs warm, gesteriliseerde glasbottels en vul dit tot net onder die skroefdraad om genoeg kopruimte vir die vakuum te laat.
- Plaas altyd 'n lap onder in die kastrol sodat die bottels nie direk teen die warm bodem stamp en moontlik bars nie.
- Hou die water tydens die waterbad teen 'n sagte prut, nie 'n woedende kookpunt nie. Oormatige kook kan die bottels laat beweeg of beskadig.
- Indien die watervlak daal, vul dit slegs met kokende warm water aan. Koue water kan die temperatuur skielik verlaag en die vakuum beïnvloed.
- Ná verwerking moet die deksel effens ingeduik wees. Dit dui op 'n suksesvolle vakuumseël. Indien 'n bottel nie verseël het nie, bêre dit in die yskas en gebruik dit eerste.
- Ná opening moet die pastaslaai altyd verkoel word en binne 'n paar dae geniet word. Indien die pasta met wagtyd van die sous absorbeer, roer eenvoudig 'n bietjie ekstra mayonnaise, suurroom of room by voordat dit bedien word.
- Rond die slaai af met gerasperde kaas, oorskietgebraaide hoender, ham, spek, tuna of vars kruie soos basiliekruid, platblaarpietersielie of origanum vir 'n volledige maaltyd.
Annelien se kombuisles: 'n Heerlike resep is net so goed soos die veiligheid waarmee dit voorberei word. Deur die korrekte bottel- en bewaringsmetodes te volg, beskerm jy nie net die kwaliteit van jou kos nie, maar ook die gesondheid van die mense vir wie jy met liefde kook.
Bestandele / Ingredients
Pasta roerbraai
1.5 kg gaar pasta (dit is ongeveer 1 kg se pasta) (hierdie resep werk ook met rys noedels en gluten vrye pasta)
1 blikkie (410 g) pynappel dreineer, in stukkies gesny. Hou die sap vir die sous asb.
1 k wortels in repies of blokkies gesny
1 k soet rissie in repies of blokkies gesny
1 k murgpampoentjie repies of blokkies (kan met eiervrug, vlapampoentjies, okra vervang word)
¼ k olie
750 ml mayonnaise van jou keuse. Indien daar ‘n eier allergie is kan jy die volgende resep Vegan Mayonnaise gebruik vir eiervrye mayonnaise.
Sous
3 uie, fyn gekap, ongeveer 2 koppies se mate
250 ml (1 k) wit druiwe asyn
200 g (1 k) witsuiker
125 ml (1/2 k) van die gedreineerde geblikte pynappels
250 ml (1 k) pasta water
50 g tomato paste (die dik konsentraat)
15 ml (1 e) fyn gedrukte knoffel
5 ml (1 t) gedroogde origanum of tarragon of tiemie
2.5 ml sout of na smaak
5 ml swart peper
Twist: 1 e kerrie poeier, 1 t borrie vir ‘n kerrie Twist.
Instruksies / Instructions
Roerbraai al die groente saam tot glansend en hou eenkant. Roer dan die pynappel en warm pasta by.
Maak seker teen hierdie tyd dat jou bottels warm en gesteriliseer is. Die pot met kook water ook gereed soos in die volgende verduidelik. Bring ‘n kastrol met water tot kookpunt, die kastrol moet ongeveer half vol gevul word want die bottels gaan in hierdie kastrol gekook word. Kies ‘n kastrol wat die bottels in kan pas sodat die bottels styf kan pas teen mekaar en nie rond hop soos dit kook nie asb. Jy kan eerder twee of drie kastrolle gebruik. Sou daar spasies oop wees, sit ‘n leë water gevulde bottel in om te keer dat die ander bottels om val. Verder sit ‘n lappie onder in die kastrol net voordat die gevulde bottels in die kastrol geplaas word.
Meng dadelik die warm pasta en mayonnaise by en skep in bottels tot onder die draai van die skroef ring. Vul met 1 e olie op.
Daarna skroef die bottels toe, en hier is die vang plekkie, draai met een haal die bottel toe, maar nie so toe soos mens sou draai as jy iets styf toe moet maak. Die toedraai moet net mooi haak dan is dit genoeg.
Plaas dan die gevulde bottels in die kokende water op die lappie, onthou om ‘n pot met ekstra kokende water eenkant te hou om die bottels te bedek. Die bottels moet ten volle bedek word met water, daar moet 5 cm spasie tussen water en deksel wees. Vul te alle tyd water aan soos die proses verloop.
Kook die potte met deksel op vir ongeveer 25 minute en dan baie belangrik die water moet stadig prut nie borrelend kook nie. Tydens hierdie proses sal die lug van binne die bottels uit gestoot word. Sou die water vlak daal het jy ‘n probleem as jy nie met WARM kook water aanvul. Die water se temperatuur moet ook konstant wees as dit by die pot gevoeg word want die bottels as dit sou afkoel, sal van die koue water n vakuum suig en van die water dus intrek en dan bederf jy al jou werk. So warm water by warm kokende potte asb.
Sodra die tyd verby is, skakel die plate af, verwyder die kastrol van die hitte bron en laat vir 5 minute staan. Lig die bottels dan uit die potte, draai die deksels styf toe en plaas op ‘n handdoekie want die bottels mag bars op ‘n baie koue oppervlak. Die produk is perfek geseel as die deksel in duik.
Stoor in spens en sodra geopen hou verkoel. Soms mag die pasta dalk droog voorkom en of deur die glas geskif, roer maar net alles goed deur en vul aan met bietjie mayonnaise of selfs room of suurroom. Verskillende vorms pasta mag dalk minder of meer sous benodig. Bv skroefies of penne meer sous en spaghetti of tagliatelle minder.
Bedienings voorstel: snipper kaas, stukkies oorskiet vleis by die gereg in en vars kruie van keuse soos platblaar Pietersielie, basillie kruid of origanum.